6-10 Januarie 2016

Woensdag, 6 Januarie 2016 en ek wag in spanning om by Misty Lakes uit te kom.  My seun het om 05h00 gery vanaf Johannesburg ek het ook dieselfde tyd in die pad geval.  Ek het al twee dae voor die tyd gepak so opgewonde was ek om Misty Lakes vir die eerste keer te besoek as nuwe SACS intekenaar.  Ons het bespreek vir die tydperk 6-10 Januarie by Swim 3.  Ek het by die hek gewag vir Chris jnr. na Herman vir ons die hek oopgesluit het.  Dit het eers ontaard in ‘n gekuier met al die boere op pad na hulle bestemming wat eers stop en gegroet het.  Ek kon nie wag om by die water te kom nie.  Daar aangekom begin ons eers die sondakke oprig met sy panele wat die effek van ‘n tent gee.  Tot on verbasing het dit in ‘n groot werk ontaard aangesien dit baie klipperig is as gevolg van die watervlak en sodoende moes ons klippe pak vir tent lyne.  Omstreeks 10h00 het ons lyne ingeroei met Tigernuts en kaboem mielies saam met oozers en sintetiese mielies.  

Die wind het ontsettend sterk in die oostelike rigting gewaai en later die aand gedraai in ‘n noordelike rigting. Dit het om 02h00 weer gaan lê.

Ons het om 11h25 voormiddag die eerste volskub karp van 9.9kg geland deur Chris jnr. wat dit vasgemaak het... wat ‘n manier om die dag te begin!  Om 12h00 vang ons ‘n 7.5kg volskub karp. Om 14h40 toe laat wiel 'n karp weer met die hoek in sy bel en ons land ‘n 4.15kg volskub karp.  Die volgende vangs op die Shimano 10,000 het om 16h00 plaasgevind met ‘n 3.17kg volskub karp.

Ons was moeg klippe gepak en het besluit ons gaan die lyne inlos en ook 'n bietjie skuinslê.  Om 23h25 is ons kaal voete oor die klippe met ‘n katrol wat hardloop en alarms wat kla en ek land ‘n 8.8kg wyfie.  Sy het omtrent 50 meter lyn afgevat toe ek vasmaak.  Sy was ontsettend beneuk oor die hoek in die mond en het links en regs geswem en 'n paar minute later eers kant toe gekom.  Ons het weer gaan skuinslê en om 04h15 het die alarms weer gehuil en ons land ‘n 5.8kg volskub karp.

Om 05h00 met ‘n lekker koffie en vuurtjie wat knetter is dit weer sulke tyd en ons land ‘n 7.4kg spieëlkarp.  Om 10h00 land ons toe toe die grootste spieëlkarp van ons sessie van net by die 10kg .  Ons ou lywe was moeg maar ons het die ander lyne weer ingeneem.

Wat ‘n Belewenis! Ek sal Misty Lakes vir enigiemand aanbeveel wat wil leer spesiehengel vir karp of vir die wat net lus is vir 'n heerlike naweek uit. Ek dink dat ons oor 'n langer tydperk wel groter karp sou gevang het aangesien die kleiner karp volop was en ons deur hul moes hengel vir die groter vis. Die vis was ook in 'n baie gesonde kondisie.

Die aas waarmee ons gehengel het was as volg:

Die dominerende aas was Rooi kaboem mielies, Perdeby oozers en sintetiese pienk mielie pitte asook ons tuisgemaakte karp room mieliepitte met tartazine.

Op die bol was dit musk red en Rooi GP en Pochi (NB Meestal Spieëlkarp)

Musk/ Pink Panter en Lootie het al die volskub karp gelewer.

Groete,

Chris van den Heever

"Neem kennis dat die dam bykans 85% vol is na goeie reënval die afgelope maand in die area; nadat dié sessie plaasgevind het."