Die doel van hierdie artikel is om aan SACS intekenaars meer inligting te verskaf rakende die privaat hengelarea wat gehengel kan word by Tzaneendam. Neville Barnard het die area gaan toets vir ons en dié artikel saamgestel om meer inligting te verskaf rakende die karphengel verwagtinge asook hoe om die vis veilig te land (aangesien dit te alle tye ons prioriteit moet wees). Hier volg sy ondervinding… Groete, SACS Direkteur
Agtergrond
As SACS intekenaar kry jy die geleendheid om op so paar privaat damme of dele van damme te gaan hengel. Een so ‘n area is by die Tzaneen dam. SACS het onderhandel met een van die boere daar vir gebruik van so amper 4km se privaat oewer. Die deel is in geheel privaat aangesien jy deur elektriese motorhekke moet gaan om toegang te verkry; waarna jy deur die eienaar se neut en avo plantasies asook deur sy privaat natuur reservaat moet ry tot by die dam. Daar is water en hout beskikbaar maar daar is nie ablusie geriewe nie… so jy moet jou eie portaloo saamvat. Daar is ook wagte wat patroleer in die aande maar ek stel voor dat jy ook jou eie sekuriteit sisteem opstel indien jy so iets het aangesien jy meestal alleen gaan wees langs die oewer.
Weens die damvlakke wat so hoog is, is net sekere plekke toeganglik vir hengel maar daar is so paar plekke wat hulle oopsny vir hengel. Daar sal ook nooit meer as 1 tot 2 groepe hengelaars toegelaat word nie. Dit beteken julle kan rondbeweeg agter die vis aan indien dit nodig is of lyne wyd en syd uitplaas om al die beste areas te teiken.
Wildlewe
Enige iemand wat Tzaneen dam ken sal weet dat die dam seekoeie het en die area is veral bekend vir sy wildlewe omdat dit ‘n baie stil deel van die dam is. Die seekoeie kom gereeld uit om aand die vars gras te wei in die aande. Wees uiters versigtig vir hulle en as daar ‘n opsie is los hulle uit of gee pad. Vir die rede sal ek nie Tzaneen dam hengel sonder ‘n boot met ‘n behoorlike petrol enjin op nie.
Indien die seekoeie te naby aan jou kamparea beweeg in die nag skyn ‘n skerp flitslig op hulle aangesien dit hul meestal verjaag. Moenie kanse neem nie en bly van die water af indien hul in die omtrek is. Daar is ook verskeie bokke wat op die reservaat loop en moet dit glad nie gepla word nie.
Hengelgerei
Wanneer dit by die hengel tegniek kom moet jou gerei behoorlik reg opgestel wees vir dié dam. Alles moet Super sterk wees. Ek se weer… Super sterk. My gerei bestaan uit 30lb Power Pro braid hooflyn. Voor op dit heg ek 20 meter se “recovery leader”, om die lyn terug te kry as jy dalk sou vassit. Die lyn is 80-100 of 150 lb dik. Voor op dit sit ek 10m van 0.80mm Zippy Mono lyn. Dan sit ek so 1.5m van 1mm Zippy Mono. Ek bind my safety clip op die lyn en dan my strop.
Die lyn is so swaar want die hele dam het afgesnyde boomstompe onder die water waaraan jy baie maklik kan vashaak. Die dik mono keer dat die karp die lyn in die boomstompe kan intrek. Ek gebruik ook baie sterk en stywe stokke want jy moet die karp, wat besonder sterk in die dam is, uit die takke uit kan trek indien hul daar inswem. Ek sal glad nie mono as hooflyn aanbeveel nie. Van die afstande wat ons op hengel is oor die 700m en die indikasie is baie swak met mono. Jy hengel naby boomstompe en jy wil so gou as moontlik weet wanneer die vis jou aas optel. My taktiek is dan ook om my stokke se punte so hoog as moontlik op te stel en die katrol se rem amper heeltemal styf te draai. Maak net seker die karp kan nie die stok intrek nie. Ek maak my pod en stokke met rekbande en tentpenne aan grond vas.
Enige strop sal werk maar ek persoonlik gebruik kombinasie stroppe en baie sterk Anti-Snag hoeke. Maak ook seker dat jou sinker dadelik kan afval as die karp die aas optel. Ek gaan haal ook omtrent al my vis op die boot om te keer dat dit te veel rondswem met die inkatrol. Daar is net te veel boomstompe om ‘n kans te waag om die vis kant toe te prober bring.
Die dam is beslis nie vir ‘n beginner nie. Gaan saam met iemand wat al daar was of wat kennis het van struktuur hengel. Sorg dat jou gerei 100% reg is. Moenie dink omdat dit in jou plaaslike dorpsdam werk dit sal by Tzaneen ook werk nie. Ek sal beslis ook nie die dam gaan hengel sonder ‘n goeie Fishfinder nie. Jy moet weet presies waarop jy jou aas neersit en hoe ver dit van enige stompe af is. Dit bly egter een van my gunsteling damme met van die sterkste karpe in die land. Die dam is baie uitdagend maar dit maak dit net soveel meer bevredigend as jy wel ‘n mooi karp daar vang.
SACS intekenaars kan my gerus kontak met enige navrae vir meer inligting rakende die dam by Whatsapp selnommer: 082-7434574
Groete, Neville Barnard